top of page
Ursinus en die Heidelbergse Kategismus

In die laaste van ons verhale oor die Kerkhervorming gaan dit nie net oor ’n mens nie, maar ook ’n dokument, naamlik die Heidelbergse Kategismus. Die Kategismus het die teologie en geloof van die Hervormde Kerk wesenlik beïnvloed. 

​

Jy kan ons Hervormde spiritualiteit nie verstaan as jy nie die verband met die Kategismus raaksien nie. Vir eeue was die Kategismus die basis van ons kerklike kategese en was prediking oor die Kategismus verpligtend. Predikante moes ten minste elf keer per jaar die Kategismus in die prediking aan die orde stel.

Die belangrikste van die verskillende medewerkers aan die Heidelbergse Kategismus was Zacharias Ursinus. Ursinus is op 18 Julie 1534 as Zacharias Baer in Breslau (Pole) gebore.  Hy het as teologiedosent aan die Universiteit van Heidelberg en in die Collegium Sapientiae ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van reformatoriese teologie. Hy is op 6 Mei 1583 oorlede. 

Ursinus is op 15-jarige ouderdom (1549) aan die Universiteit van Wittenberg ingeskryf om teologie te studeer. Daar het hy onder Luther se medewerker, die briljante teoloog Philippus Melanchthon, studeer. Melanchthon was so beïndruk met die intellektuele vermoë en geestelike volwassenheid van die jong Ursinus dat hy in sommige van sy briewe na hom verwys het en hom ook by verskeie leiers van die Kerkhervorming aanbeveel het. Nadat Ursinus Wittenberg verlaat het, studeer hy vervolgens in Straatsburg, Basel, Lausanne en Genève onder verskillende leiers van die Kerkhervorming om sy kennis te verbreed. 

In Genève het hy Calvyn ontmoet en ook deeglik kennis gemaak met die Calvinistiese teologie. Ursinus was dus in terme van die Kerkhervorming ’n unieke persoon, omdat hy sowel die Lutherse as Calvinistiese teologie baie goed geken het. Na sy studies het hy na Pole teruggekeer en publiseer hy ’n boekie oor die sakramente, wat die Lutherane kwaad gemaak het – hulle het hom daarvan beskuldig dat hy die eg Lutherse leer verruil het vir ’n Calvinistiese verstaan van die sakramente. Die vyandigheid van die Lutherane het veroorsaak dat Ursinus na Zürich verhuis het, waar hy bevriend geraak het met Heinrich Bullinger. Daarom is Ursinus se teologie ook sterk beïnvloed deur Bullinger. 

Dit is juis hierdie unieke agtergrond van Ursinus wat meegebring het dat Keurvors Frederik III van die Palts alles in werking gestel het om Ursinus na Heidelberg te lok deur hom ’n aanstelling aan die Universiteit te gee. In daardie stadium was daar groot verdeeldheid tussen die Lutherane en die Calviniste in die Palts, wat die politieke stabiliteit bedreig het. Frederik III het na iemand gesoek wat sowel die Lutherse as Calvinistiese denke geken het en oor die vermoë sou beskik om ’n kategismus op te stel wat die twee groepe kon verenig. 

Ons weet dat Ursinus, in opdrag van Frederik III, doelbewus formulerings gebruik het wat aanvaarbaar sou wees vir sowel die Calviniste as die Lutherane in die Palts. Met die Kerkorde en die Heidelbergse Kategismus van 1563 wou Frederik III in sy hoedanigheid as praecipuum membrum ecclesiae die eenheid van die kerk bevorder. Die gebruik van spesifieke woorde soos die meer inklusiewe term Christelik in die teks van die Kategismus is ’n aanduiding van die sensitiwiteit wat daar by Ursinus en die ander opstellers was om inklusief te formuleer. Daarom kan die Kategismus in ’n sekere sin as ’n “ekumeniese” teks beskou word, omdat dit opgestel is met die doel om die strydende kerklike faksies nader aan mekaar te bring.
 
Die uitstaande kenmerk van die Heidelbergse Kategis-mus is sy drieledige struktuur (sonde, verlossing en dankbaarheid). Hierdie drieledige struktuur vloei voort vanuit die eerste vraag en antwoord oor troos:
 
Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.
Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?

Antwoord: Drie dinge: eerstens, hoe groot my sonde en ellende is; tweedens, hoe ek van al my sonde en ellende verlos word; en derdens, hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

Die kern waarom dit in die Kategismus gaan, is dat die evangelie ’n boodskap van troos en hoop is. Jesus Christus is ons Trooster omdat Hy ons plek voor God ingeneem het. Hy kon dit doen omdat Hy die geliefde Seun van God is wat, soos ons, mens geword het. Die Heilige Gees is die Een wat ons daarvan oortuig dat ons deel in die verlossing in en deur Jesus Christus, daarom word ook die Gees “Trooster” genoem: 

Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so ’n geloof dan vandaan?

Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons harte deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die heilige sakramente.
 
Die drie kernpunte van die Heidelbergse Kategismus (sonde, verlossing en dankbaarheid) kan by uitstek as ’n samevatting van reformatoriese leer beskou word, en op ’n besonderse manier die algemene evangeliese geloof tot uitdrukking bring. Die Kategismus is nie ’n stuk teorie nie, maar ’n dokument wat gebruik word om die evangelie te verkondig. 

Die Kategismus was nie die werk van ’n prins of een outeur nie, maar van die geloofsgemeenskap. Dit is ’n teks wat uit die geloofsgemeenskap na vore gekom het.  Gevolglik het die Kategismus wyd invloed uitgeoefen. Dit was vir eeue en is nog steeds deel van talle kerke se kategese en belydenis. 
 

Dr Wim Dreyer
bottom of page